PERSVERKLARING:

BEOOGDE NUWE SKOOLBELEID VAN WES-KAAP ONDERWYSDEPARTEMENT STUUR AF OP ERNSTIGE KONFRONTASIE MET OUERS - 24 June 2020

PERSVERKLARING 24 JUNIE 2020 

* VIR ONMIDDELLIKE VRYSTELLING *

ONDERWERP: BEOOGDE NUWE SKOOLBELEID VAN WES-KAAP ONDERWYSDEPARTEMENT STUUR AF OP ERNSTIGE KONFRONTASIE MET OUERS

‘n Nuwe konsepbeleid van die Wes-Kaap Onderwysdepartement (die WKOD) – die Konsepriglyne oor Genderidentiteit en Seksuele Oriëntasie in Openbare Skole van die Wes-Kaap Onderwysdepartement (die Riglyne) – bedreig die beste belang – die fundamentele regte, gesondheid en welstand – van leerders wat publieke skole in die Wes-Kaap bywoon.[i]

Ten einde te verseker dat die “beste belang van kinders” [ii] beskerm en bevorder word, het menseregte-organisasie, Cause for Justice (CFJ), [iii] geskrewe kommentaar (insluitend beleidsvoorstelle en versoeke) by die WKOD ingedien op Vrydag, 19 Junie 2020.

Noodsaaklikheid van publieke deelname

CFJ het die belangrikheid en noodsaaklikheid om publieke verhore te hou, aan die WKOD beklemtoon. Die potensiële gevolge van die kwessies wat in die Riglyne aangespreek word, is verreikend.  Sonder publieke verhore / openbare deelname-prosesse op gemeenskapsvlak, sal die WKOD nie daarin slaag om behoorlike en betekenisvolle publieke deelname met Wes-Kapenaars – juis die mense wie se kinders direk deur die Riglyne geaffekteer sal word – te fasiliteer nie.[iv]

Die beste belang van kinders

Volgens die WKOD is die Riglyne ontwikkel om diskriminasie in skole te voorkom,[v] maar wanneer die inhoud van die Riglyne bestudeer word, kan daar egter verskeie problematiese en selfs kommerwekkende aspekte geïdentifiseer word.

Kontroversiële ideologiese inhoud

Die Riglyne sluit ‘n konsep van die aard van die menslike bestaan in wat op ideologie gebasseer is (en nie deur wetenskaplik ondersteun of waarde-neutraal is nie).  Dit hou nie net sekere risiko’s vir die WKOD se neutraliteit as staatsdepartement in nie, maar maak ook die Riglyne en die skole waarin dit toegepas sou word kwesbaar om vir die bevordering van ‘n bepaalde ideologiese of politieke agenda (soos sosiale verandering), misbruik te word. Tragies, is dit dan juis kinders wie ‘n daadwerklike en dringende behoefte aan sorg en beskerming het – kinders wat met geslagsverwarring of -disforie worstel – wie pionne word in ‘n sosiale eksperiment wat deur radikale geslagsideologie / transgender-aktivisme gedryf word.

Nadelige impak op ouer-kind verhoudings

Genderidentiteit en seksuele oriëntasie is persoonlike, sensitiewe kwessies. Tog sal die Riglyne se voorstelle tot gevolg hê om op die beste by ouer-kind verhoudings in te meng en op die ergste dit te verbreek – en dit ten opsigte van mees na-aan-die-hart kwessies rakende hul kind! Hierdie ondermyning van ouerlike regte en gesag is grondwetlik onregverdigbaar.

Onbillike diskriminerende behandeling

Die Riglyne verklap ‘n oënskynlike gebrek aan besorgdheid teenoor leerders wie nie as “transgender” of “LGBTQI+” identifiseer nie. Dis ook disrespekvol teenoor die regte van skoolpersoneel. Die regte en belange van transgender leerders word deurlopend bo en ten koste van die regte van ander gepriortiseer, en miskien mees onrusbarend – ten koste van die beste belang van ander leerders se privaatheid, veiligheid, billike en gelyke behandeling, en fundamentele regte.

Onregmatige inbraak op besluite binne die bestek van skole en die nasionale uitvoerende gesag

In post-Apartheid Suid-Afrika is skoolonderwys gedesentraliseer. By wyse van hul meerderheid op elke individuele skool se skoolbeheerliggaam, het ouers nou effektiewelik die finale gesag ten opsigte van meeste skoolaangeleenthede. Die Riglyne ondermyn hierdie belangrike beskermingsmaatreël wat juis ingestel is om te verhoed dat die diskriminerende en ideologiese staatsinmenging van die verlede nie in demokratiese Suid-Afrika gerepliseer sal word nie.

Veder sluit die Riglyne voorstelle in wat inmenging by skoolkurrikulum sal toelaat – terwyl kurrikulum-aangeleenthede binne die uitsluitlike besluit van die nasionale Departement van Basiese Onderwys val.

Ter afsluiting

CFJ het die WKOD versoek om te reageer op CFJ se versoek vir behoorlike en breë publieke deelname op gemeenskapsvlak, CFJ se regstellende beleidsvoorstelle, asook CFJ se versoeke / vrae rakende sekere belangrike kwessies ten opsigte waarvan duidelikheid nodig is.

CFJ is toegewy aan die bevordering en beskerming van die beste belang van kinders – veral teen die skadelike impak van kontroversiële, onwetenskaplike en eksperimentele ideologieë, en politieke agendas. In diens van hierdie doel, poog CFJ om sover moontlik saam met die regering te werk en die regering te ondersteun.

[PERSVERKLARING EINDIG]

Vir verdere navrae, kontak vir CFJ by:

E-pos:   info@causeforjustice.org

Tel:         074 355 0775

[i] Die Riglyne impliseer Artikel 28 (Kinders) te same met Artikel 29 (Onderwys) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996.

 

[ii] Volgens Artikel 28(2) van die Grondwet, is “ʼn [k]ind se beste belang […] van deurslaggewende belang in elke aangeleentheid wat die kind raak.

 

[iii] Cause for Justice (CFJ) is ‘n a-politiese, onpartydige menseregte-organisasie wat bestaan om in die belang van die publiek en geregtigheid op te tree deur grondwetlike regte, vryhede en verpligtinge te bevorder en beskerm in Suid-Afrika.

 

Die afgelope twee jaar is CFJ ook aktief betrokke by die nasionale Departement van Basiese Onderwys (DBO) en ander rolspelers ten opsigte van die DBO se voorgenome uitrol van staatsgeborgde Omvattende Seksuele Onderrig (OSO) leermateriaal in alle publieke skole.

 

[iv] CFJ het aan die WKOD voorgestel dat, tot die mate wat Covid-19 inperkingsmaatreëls in-persoon publieke deelname beperk / verhoed, publieke deelname deur middel van virtuele platvorms in gemeenskappe regoor die provinsie gefasiliteer moet word.

 

[v] Volgens die WKOD se versoek vir publieke insae ten opsigte van die Riglyne, is die Riglyne ontwikkel om alle publieke skole en skool-gemeenskappe sensitief te maak om ‘n bydrae te lewer tot die skep van opvoedkundige omgewings waarin daar  nie direk of indirek teen enige iemand op een of meer gronde insluitend geslagtelikheid, geslag, seksuele oriëntasie, gewete, geloof, kultuur, of geboorte gediskrimineer word nie.

CAUSE FOR JUSTICE

Subscribe to our newsletter!

Thank you for subscribing!

LET'S RAISE OUR VOICE

Share this on your social networks.