PERSVERKLARING

KONSTITUSIONELE HOF GEVRA OM MENSWAARDIGHEID VAN ONGEBORE BABAS TE ERKEN - OCTOBER 2021

PERSVERKLARING DEUR CAUSE FOR JUSTICE: 15 OKTOBER 2021  

 

* VIR ONMIDDELLIKE VRYSTELLING *

ONDERWERP: “PERSVERKLARING: KONSTITUSIONELE HOF GEVRA OM MENSWAARDIGHEID VAN ONGEBORE BABAS TE ERKEN”

Menswaardigheid is ‘n hoeksteun-waarde van die Suid-Afrikaanse Grondwet. Mensregte-organisasie, Cause for Justice (CFJ), staan eersdaags in die Konstitusionele Hof op vir die inherente waarde van alle mense – insluitend ongebore babas.

 

Die Voice of the Unborn Baby-hofsaak

 Op 4 November 2021 oorweeg die Konstitusionele Hof ‘n waterskeidinguitspraak wat vroeër vanjaar deur die Pretoria Hooggeregshof gelewer is. Die hoogste Suid-Afrikaanse hof moet nou bevestig watter bedroefde ouers die reg het om die liggaamlike oorskot van hul ongebore baba te begrawe. [1] [2]

 Huidige Suid-Afrikaanse wetgewing beskou en behandel die oorskot van miskraam-babas (babas wat sterf voor 26 weke se ontwikkelling in die baarmoeder) as ‘mediese afval’ – d.w.s. as oorblyfsels van mediese of chirurgiese prosedures. Dit beteken dat ouers van hierdie babas nie die liggaamlike oorskot van hul baba kan ontvang vir doeleindes van ‘n begrafnis nie. Ongeag die ouers se wense, word hul baba se liggaam oorhandig om verbrand te word saam met chirurgies verwyderde liggaamsdele en ander mediese afval.

Volgens CFJ handel die hofsaak se sentrale vraag oor die inherente waarde (of waardigheid) van menslike lewe en wat dit beteken vir die manier waarop menslike oorskot behandel moet word.

 

Uitsprraak van die Pretoria Hooggeregshof

Die Pretoria Hooggeregshof is versoek om die huidige regsposisie ongrondwetlik te verklaar. CFJ het as ‘n amicus curiae (of ‘vriend van die hof’-party) opgetree in die saak wat oor twee dae in November 2019 aangehoor is. Op 26 Maart 2019 het die Hooggeregshof bevestig dat die 26 weke lewensvatbaarheid-skeidslyn ouers se reg skend om hul baba se oorskot te kan ontvang en begrawe. Die hof het die huidige regsposisie ongrondwetlik verklaar en gelas dat ouers die reg het om hul ongebore baba wat aan natuurlike oorsake sterf te begrawe, ongeag hoe lank (of kort) die baba in die baarmoeder was.

Terwyl CFJ hierdie uitkoms gevier het, was die organisasie ook verbaas dat die hof arbitrêr en sonder rede versuim het om hierdie reg uit te brei na alle ouers. Ouers wie se baba voor geboorte sterf as gevolg van menslike ingryping, het steeds nie die reg nie – en word wetlik verbied – om die oorskot van hul baba te ontvang vir doeleinde van ‘n begrafnis. Volgens CFJ is daar geen rasionele basis vir hierdie ontkenning van regte aan ouers wat die menslikheid van hul baba erken en hul groot verlies wil betreur deur wyse van ‘n begrafnis nie.

Ewe kommerwekkend is dat die uitspraak oënskynlik aan ouers die mag gee om te bepaal of ‘n baba wat voor geboorte sterf, wettiglik as ‘n ‘mens’ erken word of nie. CFJ beskou dit as ‘n ernstige onreg: ons menswees kan nie afhanklik wees van iemand anders se wil om ons te laat lewe of nie – óf van die manier waarop ons sterf nie (hetsy deur natuurlike oorsake of as gevolg van menslike ingryping).

 

Die Konstitusionele Hof-verrigtinge

 CFJ het aansoek gedoen om as ‘n ‘vriend van die hof’-party in die Konstitusionele Hof-verrigtinge op te tree, nadat hul dieselfde rol in die hooggeregshofsaak vervul het. [3] Die menseregte-organisasie berei voor om die hof by te staan rakende die hantering van die verhouding tussen ongebore menslike lewe en die grondwetlike waarde van menswaardigheid.

Die Konstitusionele Hof sal ook die hoofpartye se appèlle teen verskillende aspekte van die Hooggeregshof-hofbevel aanhoor. [5] Die Katolieke Aartsbisdom van Durban, een van die hoofpartye, appelleer bv. teen die onregverdige onderskeid wat getref word tussen ouers se regte op grond van die wyse waarop hul ongebore baba sterf (natuurlike oorsake teenoor menslike ingryping). Hul dring daarop aan dat die teenwoordigheid of afwesigheid van menslike ingryping bepaal nie of ouers bedroef is of nie.

CFJ sal argumenteer teen hierdie ongegronde onderskeid asook die arbitrêre ontkenning van sommige ongebore babas se menslikheid en die regte van hul bedroefde ouers. Die menseregte-organisasie sal die Konstitusionele Hof ook versoek om hul argumente wat in die Hooggeregshof gevoer is, te oorweeg. Hierdie argumente handel oor die inherente waarde van alle mense, insluitend babas wat in die baarmoeder is, en die implikasies hiervan vir die hantering van menslike liggaamlike oorskot. Die Hooggeregshof het versuim om dit in ag te neem in lig van die grondwetlike waarde van menswaardigheid. [4]

  

***

Die oorlede staatsman, Nelson Mandela, het gesê: ‘Daar kan geen groter openbaring van die siel van ‘n samelewing wees as die manier waarop dit sy kinders behandel nie’. Die Voice of the Unborn Baby-saak bied ‘n blik in die siel van Suid-Afrika – die vraag is wat dit oor die hart van ons samelewing sal openbaar.

 

[PERSVERKLARING EINDIG]

 

Vir enige navrae, kontak CFJ by:

E-pos:    info@causeforjustice.org

Tel:         074 355 0775

 

Eindnotas:

  • [1] Die hof het sekere artikels in die Births and Deaths Registration Act, 1992 en klousules in die Regulations Relating to the Management of Human Remains, 2013 ongrondwetlik verklaar tot die mate dat dit ouers die reg ontneem om hul ongebore baba se oorskot te begrawe waar die baba gesterf het aan natuurlike oorsake voor 26 weke se ontwikkelling in die baarmoeder.
  • [2] Die Konstitusionele Hof het die mag om die uitspraak van die Hooggeregshof te bevestig, te wysig of te vervang met ‘n nuwe uitspraak van sy eie.
  • [3] Die rol van ‘n amicus party is om die hof te help met die interpretasie en toepassing van die grondwetlike regte, waardes en belange wat deur die onderwerp van die saak geïmpliseer word.
  • [4] Gebaseer op Suid-Afrikaanse, buitelandse en internasionale reg.
  • [5] Die hoofpartye tot die saak is: die Voice of the Unborn Baby NPC, die Katolieke Aartsbisdom van Durban, die Minister van Binnelandse Sake, en die Minister van Gesondheid.

 

Lees meer oor CFJ se betrokkenheid by die saak hier:

 

Vorige persverklarings:

CAUSE FOR JUSTICE

Subscribe to our newsletter!

Thank you for subscribing!

LET'S RAISE OUR VOICE

Share this on your social networks.