MEDIA-VERKLARING: 28 JUNIE 2017
UITSPRAAK GELEWER IN “DIE GELOOF IN OPENBARE SKOLE HOFSAAK”Die Johannesburgse Hooggeregshof het vandag uitspraak gelewer in die saak oor godsdienstige/geloofs-etos, uitdrukking en byeenkomste in Suid-Afrikaanse openbare skole.
Cause For Justice (CFJ) tree op as ‘n “vriend van die hof” (amicus curiae party), om sodoende die hof by te staan in die interpretasie en toepassing van grondwetlike regte en waardes wat hierin tersake is. Hierdie saak is ‘n waterskeiding vir geloofsvryheid in Suid-Afrika en sal heel waarskynlik in die Grondwetlike Hof draai.
WAT WAS DIE HOF SE BEVINDINGE?
Die hof het oorwegend ten gunste van die argumente van die openbare skole bevind, behalwe op twee punte, naamlik – dit is onregmatig is vir ‘n openbare skool:
- om onderhouding van slegs een of hoofsaaklik een godsdiens te bevorder of sy personeel toe te laat om dit te doen, tot uitsluiting van ander geloofsoortuigings, en
- om te kenne te gee aan die algemene publiek dat dit die belange van ‘n enkele godsdiens ten gunste van ander bevorder.
Die hof het sy ondersoek op drie vrae gefokus. Die eerste het betrekking op die bogenoemde twee bevindinge. Die tweede was of ‘n openbare skool self godsdiensbeoefening kan aanbied, alternatiewelik of dit slegs deur buitepartye op die skool se perseel gedoen mag word. Die derde vraag was of ‘n leerder gevra mag word aan watter geloof / godsdiens, indien enige, hy of sy behoort? Beide die tweede en derde vrae is in die skole se guns beslis.
Meer spesifiek, die Applikant het aansoek gedoen om –
- sewe (7) verklarende bevele, en was suksesvol met twee (2) daarvan; en
- 71 interdikte teen die skole, en was onsuksesvol met almal.
Die kwessie van subsidiêriteit
Kern tot CFJ se argumente voor die hof op 16 Mei 2017, was die kwessie van subsidiêriteit – wat verwys na die regsreël dat enigiemand wat die regmatigheid van enige optrede van ‘n staatsorgaan of ander persoon wil aanval, dit slegs mag toets teen die laagste vlak van wetgewing wat die optrede magtig. In hierdie konteks beteken dit dat die Applikant nie die gedrag van die skole teen die Grondwet of teen die Skolewet mag toets nie – dit mag dit net toets teen die skole se eie reëls ten opsigte van godsdiensbeoefening.
Die hof het sowat die helfte van sy uitspraak aan hierdie kwessie gewy en uiteindelik op grond daarvan vrae twee en drie hierbo in die skole se guns beslis. Die Applikant het versuim om die skole se optrede teen hulle eie reëls te toets en het nie aangevoer dat die skole se eie reëls indruis teen die bepalings van die toepaslike provinsiale of nasionale wetgewing nie.
WAT BETEKEN DIT ALLES?
‘n Openbare skool mag nie die onderhouding van ‘n enkele godsdiens bevorder nie, en/of homself daarvoor uitgee dat hy die belange van ‘n enkele godsdiens bevorder nie.
Die opstel van ‘n beleid met betrekking tot godsdiensbeoefening by ‘n skool bly egter die reg en verantwoordelikheid van elke individuele skool se skoolbeheerliggaam (SBL). Die skool sal regmatig optree solank sy godsdiensbeoefening in ooreenstemming is met die reëls van sy SBL.
Die saak bevestig dus die institusionele gesag van SBL’e.
OPSOMMENDE KOMMENTAAR OP DIE HOF SE UITSPRAAK
Ons vind die hof se redes / motivering vir die toestaan van gedeeltelike regshulp aan die Applikant verrassend dun. Die hof het sy bevinding gegrond op die noodsaaklikheid om diversiteit te vier en bevorder, deur op ‘n billike basis teenoor verskillende godsdienste op te tree en nie bloot diversiteit te verdra nie.
Die hof het weer bevestig dat Suid-Afrika nie ‘n sekulêre staat is nie. Na ons mening het die hof se beslissing die plek van godsdiens in die openbare sfeer bevestig, spesifiek in openbare skole, terwyl dit vereis word dat skole hulself nie op ‘n wyse bemark wat minderhede mag uitsluit nie.
[MEDIA VERKLARING EINDIG]
Vir navrae, kontak CFJ by:
E-pos adres: info@causeforjustice.org
Telefoonnommer: 083 235 1511